This article from the
Beeld
www.news24.co.za
Verskeie ontstoke eienaars van Land Rovers,
en spesifiek die Discovery TDi-model, kruis opnuut swaarde met Land Rover
SA met bewerings dat 'n gebrekkige onderdeel moontlik aanleiding kon gee
tot oorverhitting en gevolglike enjinskade aan hul viertrekvoertuie.
In al die gevalle wat onder Tot u Diens se
aandag gebring is, het die enjins oorverhit nadat 'n pakstuk na bewering
onklaar geraak het. Voorts het die temperatuuraanwyser na bewering in al
die gevalle nie aangetoon dat die enjin verhit nie, en was die skade reeds
gedoen voordat die aanwyser in werklikheid aangetoon het dat die
temperatuur te hoog is.
Dr. Hannes Swart van Pretoria was een van
die Discovery-eienaars wat verlede jaar sowat R60 000 moes opdok om
die enjin van sy voertuig te vervang. Hy het R185 000 van Land Rover
SA geeïs - die aankoopprys wat hy aanvanklik vir die voertuig betaal het.
Dié eis is van die hand gewys deur Land Rover SA.
Van die aantygings wat gemaak word, is dat
Land Rover SA na bewering bewus was van die feit dat die aanvanklike
pakstuk, wat buigbaar en materiaalagtig voorkom (onderdeel ERR 3284),
inherente defekte gehad het wat regstreeks aanleiding gegee het tot die
oorverhitting van die enjins.
Dié spesifieke pakstuk is klaarblyklik
later vervang deur 'n pakstuk van alluminium (PET 100790).
In die korrespondensie tussen Swart se
regsverteenwoordigers en Land Rover SA het laasgenoemde by monde van hul
regsadviseur verklaar dat "hy nie bewus is van enige opgradering van
pakstukke wat weens 'n defek vereis is nie, maar dat onderdele van tyd tot
tyd wel opgegradeer word vanweë nuwe tegnologiese voordele".
Voorts voer Swart se regsverteenwoordigers
aan dat tegnici by verskeie Land Rover dienssentrums erken het dat dit
moontlik is dat 'n enjin oorverhit sonder dat dit aangedui word op die
temperatuurmeter in die voertuig.
In een van die ander gevalle het 'n
splinternuwe Land Rover Discovery TDi van mnr. C. Knight oorverhit nadat
hy dit slegs 'n week of wat gehad het. Herstelwerk aan sy voertuig is
egter nog onder die geldige waarborg gedoen.
Mnr. Werner du Plessis van Pretoria was in
dieselfde bootjie, maar sy eis om skadevergoeding is deur Land Rover SA
van die hand gewys omdat die voertuig nie meer onder waarborg was nie en
die voertuig 'n keer of wat deur nie-goedgekeurde Land Rover-werktuigkundiges
herstel is.
Du Plessis meen egter dat die pakstuk
inherent foutief was en dat sy eis in die lig daarvan toegestaan behoort
te word.
Hoewel die onderskeie klagtes, en spesifiek
dié van Swart, reeds sowat drie weke gelede aan Land Rover SA voorgelê
is vir kommentaar, is nog geen antwoord ontvang nie.
Met dié dat
Land Rover SA uit die stal van BMW na dié van Ford is, is die kliëntedienssentrum
van Land Rover SA voortaan laasgenoemde voertuigvervaardiger se
verantwoordelikheid.
|